‘n Sutherland Ervaring

As ek aan Sutherland gedink het, kom daar nie veel in my gedagtes op nie… Ek het geweet dit is die plek waar SALT is en ek het ook al op die weervoorspelling gehoor dat die temperatuur daar gereeld onder vriespunt daal. Maar van die dorp self het ek maar min geweet. Dis nou totdat ek dit eerstehands beleef het… 

Ek en drie vriendinne het onlangs besluit om op ‘n roadtrip te gaan, net ons en die oop pad… Maar waarheen? Is daar regtig ‘n plekkie naby genoeg aan die Kaap waar nie een van ons al was nie? Êrens waar mens net kan gaan ontspan en nie hoef te worry oor die gejaag van die stadslewe nie. Waar ons mense kan ontmoet met interessante stories en dinge kan beleef wat ons verewig sal bybly. En so begin die beplanning vir ‘n wegbreek na Sutherland en omgewing.

Met ons aankoms in die dorp is ek nogal verbaas met die bedrywighede in die dorp. Hier is baie meer karre as wat ek verwag het. Ja, dit is nou nie ‘n stad nie, maar definitief groter as ander Karoo-dorpies waar ek al was! Om elke hoek en draai is ‘n eetplek, winkel of slaapplek en daar is selfs ‘n Mall! Okay ek weet, dis nou nie jou tradisionele mall nie, en ja, dit is net een vertrek groot, maar ai, daar is van klere tot kougom, van koeldrank tot klerepattrone, van speelgoed tot ‘n spyskaart om jou kos van te bestel… Net wat jou hart begeer!

Volgende stop, êrens waar mens kan gaan sit en iets te drinke kry, want hierdie dorp kan vir jou warm word! Maar waar? Ons hoor by die locals dat Oudag se Winkel definitief die moeite werd is om te besoek. Hier word ons vriendelik gegroet deur twee dames wat hard aan die skarrel is om die twee bussies vol rugbyspelers wat sopas ingestap het in die eetruimte in te pas. “Ons het eintlik nie nog sitplek nie, maar ons sal gou kyk wat ons vir julle kan reël,” sê die eienares en kort voor lank sit ons lekker op die koel stoep op kantoorstoele en drink die beste Milkshakes en Cake Floats in ‘n baie lang tyd!

Toe die rugbyspelers weg is, kom gesels die eienares daar op die stoep en dit voel kompleet soos ‘n scene uit een of ander boek oor die Karoo en sy mense, kompleet met die stoele op die voorstoep en grondpaaie en al. Dis ‘n storie oor ‘n plat op die aarde local wat vertel hoe na dié dorpie aan haar hart lê en hoe jammer dit eintlik is dat so min mense van hierdie dorpie weet. Sy vertel van haar drome en planne vir die winkel en dorp en hoe moeilik dit is om sulke drome te realiseer aangesien dit bloot onmoontlik is om soveel geld te spandeer indien daar nie nuwe voete is om die verbeterings te waardeer nie. Maar negatief is sy definitief nie. Nee, sy vertel van die mooi van die streek, van die uniekhede van Sutherland en die inwoners wat sommer vinnig in jou hart kruip.

Terwyl mens deur die dorp se stofstrate loop, is dit opvallend hoe mooi die inwoners hierdie outydse huise gerestoureer het en versorg. Elke huis het sy stoep met meubels en ’n blommetjie of twee geplant aan die binnekant van die tuinhekkie. Die mense wat verby jou loop in die straat kan sommer sien jy is “nie van hier rond nie” en groet jou vriendelik waarna hulle oor jou besoek uitvra, hulp verleen indien nodig en dan weer aanstaltes maak. ’n Vinnige stappie in die dorp om net te sien hoe dit lyk word gou-gou ’n uur of twee.

As die Stormers speel, is daar nie ’n rugbyondersteuner op die dorp wat nie gedurende die verloop van die wedstryd ’n draai by Jupiter gaan maak nie. En aangesien ons soveel as moontlik van die dorp se atmosfeer wil vasvang, is ons nie ver agter nie. Hier ontmoet ons weer locals en binne vyftien minute word ons genooi na ’n potjiekos die aand. Ongelukkig het ons reeds ons kos beplan en moet dit van die hand wys. Daar word so gesels en opgevang dat die wedstryd sommer gou-gou vergete is. Net die eindtelling is belangrik: Die Stormers het gewen!

Na ’n lang dag van rondry, rondloop en mense ontmoet is dit lekker om teen laatmiddag aan te suiker kampterrein toe. Hier word ons gegroet deur twee stertswaaiende honde, ganse en bokkies wat tog te opgewonde is oor die nuwe gesigte op die plaas. Hier slaan ons gou tent op, ontmoet die ander kampeerders en braai gou ’n tjoppie of twee. Maar wat is ’n trippie Sutherland toe nou sonder ten minste een ervaring van sterrekyk? Ons laaste aktiwiteit vir die aand is die Stargazing. Hier leer ons alles van sterre en planete wat ons nog ooit wou geweet het… en nog meer! Elkeen kry ook die kans om deur ’n teleskoop na ’n verskeidenheid van sterre te kyk. Die laaste voorwerp vir die aand is Saturnus en is dit nou nie vir jou mooi nie! Dit lyk net soos op prentjies, kompleet met die ringe om en al. Nie gedink mens sal dit so duidelik kan sien nie. Hierdie deel het ons regtig beïndruk!

Op die ou end is daar soveel stories wat ’n mens van jou besoekie aan Sutherland kan vertel. Daar is soveel ervarings wat jy nooit sal vergeet nie. Soveel mense wat toe wel so vinnig in jou hart gekruip het. Hierdie is slegs my ervaring daarvan en ek waarborg jou as jy die moeite gaan doen om hierdie dorp te besoek, sal jy regtig nog veel meer hê om te vertel. Dit is ’n plekkie waar jy kan kom stilwees, uitrus, weer jou voete kan vind en aangemoedig kan word vir die werksweek wat voorlê! Gun dit vir jouself, ons het!

Share this post

Share on facebook
Share on twitter
Share on print
Share on email