Met ou trekpad na Ceres-Karoo

Met ou trekpad na Ceres-Karoo

Met ou trekpad na Ceres-Karoo
Original Source / Oorspronklike Bron: Die Burger, Buite Burger bylae

’n Rit langs die Swartrugpad wat die Koue Bokkeveld met die Ceres-Karoo verbind, sal aan enige agterpadryer genot verskaf, skryf Pieter le Roux. 

Die Swartrugpad is 36 km lank en sluit twee bergpasse in. Dit bied wonderlike natuurskoon en vergesigte. En dit is ’n pad met ’n ­storie.

Vir geslagte lank het die boere van die Koue Bokkeveld jaarliks die bibberende nat winters van hul kontrei ontvlug deur met hul vee oor die Swartruggens-gebergte na die warmer Ceres-Karoo te trek. Die Swartrugpad volg rofweg daardie ou trekroete.

Die Afrikaanse skrywer en digter Izak W. van der Merwe, die nimlike Boerneef, het Swartrug se trekpad as jongeling geken. In sy gepubliseerde prosa en digkuns het hy die lekkerkry en swaarkry van daardie trekke met die skape, bokke en ossewaens nostalgies besing.

In ’n pragtige boekie getiteld Koue Bokkeveld, die storie van Op-die-Berg (2011) het die oud-Bokkevelder Gert van der Merwe onlangs ook weer die verhaal van die Swartrug-trekroete vertel. Hy noem dit “die vergete trekpad”.

As jy vandag langs daardie roete ry, kry jy ’n goeie idee van die fisieke hindernisse wat vanmelewe oorkom moes word om die kleinvee en ossewaens oor die Swartruggens­gebergte tot in die Karoo te kry.

Aan die Koue Bokkeveld se kant neem die grondpad jou ná sowat tien kilometer met ’n smal brug oor die Rietvlei, ’n rivier met besonder sanderige oewers. By Rietvlei se drif moes daar dikwels oorgelê word sodat die water eers kon sak voordat die vee kon deurgaan. Eers daarna kon Katbakkies se erge steiltes aangedurf word.

Boerneef het vertel dat daar mettertyd bokant die ou drif ’n brug oor die Rietvlei gebou is. Die veetroppe kon toe droogvoets oor die rivier.

Sommige boere was egter erg skepties oor die ligging van die brug. Een oom veral het geglo dat dit deur “kastige enjeniers” beplan is wat Rietvlei slegs in die somermaande geken het wanneer dit daar “houthoringdroog” was.

Ná ’n groot reën het die rivier se loop toe ook heeltemal verander. En daar staan die brug toe hoog en droog op die vlak, met die water wat elders verbyloop! Soos voorheen moes daar maar weer geswoeg word om die skape en bokke deur Rietvlei se “ys­water” en “willesand” te kry.

Die huidige padbrug is later op ’n beter plek gebou, ’n paar honderd ­meter stroomop van die eerste brug.

Boerneef beskryf Katbakkies met sy gevreesde Hotomdraai (’n skerp draai na regs op ’n steil plek) as “die moorddadigste stuk pad waarmee ek nog ooit te doen gehad het”. Dáár het die trekosse altyd bitter swaar gekry.

Die Katbakkies-pas is deesdae geteer. Die pas is net sowat vier kilometer lank, maar jy styg gou-gou etlike honderde meter teen ’n stewige gradiënt.

Ná Katbakkies voer ’n bruikbare gruispad jou oor die Swartrugplato, verby die afdraai na die bekende Kagga Kamma-oord. Die plato is ’n ruwe wêreld met treffende Cederbergse rotsformasies, San-tekeninge en mooi plantegroei. Snags sluip luiperds nog daar rond.

Sowat nege kilometer anderkant Katbakkies gewaar jy ’n prominente ronde koppie na regs.

Preutserig het Boerneef êrens na daardie oorstaanplek verwys as “Rondeberg”.

Dikwels het hy egter ’n veel aardser volksnaam daarvoor gebruik en sielvol het hy gedig: “By Pramberg blêr ’n moflam / van hongerte en dors . . .”

Dan volg ’n hoogtepunt van jou rit wanneer jy vanaf die Swartruggens-hoogtes ’n panoramiese uitsig oor die Ceres-Karoo doer onder jou kry.

Teen die verre gesigseinder lê die Roggeveldberge. Die toneel vra vir ’n bietjie stilhou en stilwees.

Daarna daal jy af met die kort maar steilerige Skitterykloof, nou ook geteer.

Aan jou linkerkant het jy ’n berghang, maar moenie te veel ginnegaap teen daardie afdraand af nie, want aan jou regterkant is daar geen veiligheidsrelings of beskermende rotsblokke wat jou gang kan stuit indien jy die pad sou byster raak nie.

By die onderpunt van Skitterykloof is ’n piekniekplek wat wye bekendheid onder voëlkykers geniet. Karoo-voëlspesies soos die skaars kaneelborssanger word gereeld daar opgemerk.

Die voëlkykers noem die plek “Katbakkies”, hoewel die werklike Katbakkies eintlik ver ten weste daarvan lê.

Ná ’n laaste kort klofie eindig die roete dan op die wye vlaktes van die Ceres-Karoo waar dit by die Ceres-Calvinia-grondpad aansluit (die bekende R355).

Na links lê die Tankwa-Karoo Nasionale Park en Calvinia. Na regs ry jy deur Karoopoort na Ceres.

Gaan ry gerus daardie indrukwekkende ou trekpad oor die Swartrug – dalk in die komende lente wanneer die blomme weer geil kan staan in die ­Tankwa.  

-Pieter le Roux is ’n agterpadryer van Kampsbaai.

Waar kom dié name vandaan?

Oor die oorsprong van Katbakkies en Skitterykloof se beskrywende name is daar nie eenstemmigheid nie.

Van Katbakkies word gesê dat motors destyds glo net in hul sterkste rat, trurat, daar kon uit – dus as ’t ware met die kattebak eerste!

Onwaarskynlik?

Ander glo weer dat die vorm van ’n kat se gesig êrens teen Katbakkies se kranse gesien kan word.

Maar daardie kiets speel beslis wegkruipertjie met jou!

Die teorie dat die steil Skitterykloof se naam te make het met die benoudheidsimptome van motoriste wat daar moes ry, het glo geen substansie nie.

Nee, sê Gert van der Merwe, die pas het dalk eerder sy naam gekry omdat skape soms ’n omgekrapte, los maag daar opgedoen het nadat hulle van plante soos krimpsiekbos en “vuursiek” gevreet het. Die oorspronk­like naam kon glo ook Speserykloof, Selderykloof of Skilderykloof gewees het.

Willie van der Merwe, nog ’n Bokkeveld-boorling, het volgens ’n ander bron gemeen dat Skitterykloof sy naam gekry het “omdat sy grond glad en kleierig is, modderig, morsig onder die vee se pote.” ’n Mens moet maar besluit welke Van der Merwe jy wil glo.

Op ’n amptelike kaart (2003) word die steilte slegs as Skitterykloof aangedui.

Sommige beweer dat die pas ook die alternatiewe naam “Peerboomskloof” het.

Volgens Gert van der Merwe kom Peerboomskloof eintlik eers nadat Skittery­kloof reeds agter jou is. Dit is die kort klofie waarmee jy die Ceres-Karoo se vlakte binnegaan en het sy naam gekry “omdat daar vroeër peerbome langs die pad gestaan het”.​

​Na Seressekaro

Só het Boerneef gedig oor die vergete

agterpaaie:

“Na baie jare ry ons weer Katbakkies uit

tot diep in die Kro

Pramberg verby en Skitterykloof af

tot in die hart van Seressekaro . . .”

(uit Palissandryne, 1964)

Met ou trekpad na Ceres-Karoo Met ou trekpad na Ceres-Karoo

back

By: Pieter le Roux | Published: 29/05/2014


Leave A Comment

Name:

Email:

Comment:

Remember my personal information

Notify me of follow-up comments?

Are you human? Please answer the question you see below:

What is missing: North, South, East? (4 character(s) required)